Availability: In Stock

Anderkant die water

SKU: 9781779860347

R300,00

2 in stock

Description

Hoe hou jou hart aan klop wanneer jou kind s’n stop?

Wanneer oud-Springbok Jannie du Plessis en sy vrou, Ronel, se babaseuntjie een aand in hul swembad verdrink, ruk dit die hele land en dompel die Du Plessis in ’n maalkolk van smart. Vyf jaar later vertel Ronel vir die eerste keer die volle verhaal.

As leser neem sy jou saam op ’n aangrypende sielsreis voor en ná haar kind se dood – van haar en Jannie se studenteliefde op Kovsies se mediese kampus tot hul sorgelose jare in Frankryk, altyd verweef met Jan-Nathaniel se dood wat onheilspellend in die toekoms lê en wag.

Met ’n hartverskeurende helderheid skryf sy oor haar swangerskap, Jan-Nathaniel se geboorte, die tien maande van sy lewe en uiteindelik sy dood – hoe hulle dit probeer verwerk het, hoe sy vergeefs weer probeer swanger raak het en hoe sy en Jannie op verskillende maniere sin en betekenis in die tragedie moes vind. Een van die maniere waarop Ronel dit verwerk het, was deur te skryf en te teken. Haar rympies en sketse word met haar skryfwerk verweef en saam skep dit ’n verhaal wat tegelyk ontroer, meesleur en verpletter.

Ronel se geloof loop soos ’n goue draad deur die boek. Sy skryf rou en eerlik oor haar gebede wat nie verhoor is nie, oor hoe sy met God baklei wanneer die kruis te swaar word, maar ook hoe geloof uiteindelik al is wat haar staande hou.

Anderkant die water is ’n verhaal oor die ondenkbare en die verskriklike, maar ook oor die menslike gees wat alles oorkom. Dit slinger jou in die donkerste hart van verlies in, maar lei jou ook weer met ’n flits en ’n kaart daaruit, op ’n pad na betekenis en genesing.